Sign In
Aftrede, waar’s jou angel?
5/1/2015

​“Rus roes” lui die spreekwoord. Daarom moet almal – van Baby Boomers tot jong werkendes – hulself versoen met die realiteit van lewenslange leer en aftrede liefs uitstel, of selfs afstel.

. Afrikaans English  

Deesdae reken kenners jy sal slegs kan bekostig om kommervry af te tree as jy sewe jaar ná jou dood ophou werk ...

Kyk 'n mens egter na onlangse navorsing wat oorsee én op eie bodem gedoen is, klink die bogenoemde grappie ontstellend naby aan die waarheid.  

Verlede jaar het die multinasionale versekeringsmaatskappy Aegon 'n omvattende meningspeiling onder 16 000 mense in 15 lande gedoen om hul gereedheid vir aftrede te bepaal.

Tot 54% van die deelnemers het gereken hulle gaan slegter af wees ná aftrede. 'n Onrusbarende 61% het laat blyk hulle het geen plan om op terug te val nie en 17% het vrede gemaak met die feit dat hul sal moet aanhou werk om die pot aan die kook te hou.

Twee sleutelbevindings van dié studie was dat jy persoonlike verantwoordelikheid moet neem vir jou inkomste tydens aftrede en dat jy eenvoudig langer sal moet werk.

Hier by ons het Sanlam Werknemervoordele se jaarlikse peiling oor die aftreefondsbedryf in 2014 die gevaarligte verder laat flikker vir afgetredenes. Minder as 'n derde (29%) van afgetredenes kan steeds hul lewenstandaard handhaaf. Die gemiddelde bedrag waarmee afgetredenes wat aan die studie deelgeneem het tevrede moes wees, is slegs R8442 per maand.

Verder was daar 'n beduidende toename in afgetredenes wat steeds moet sorg vir 'n ouer sowel as 'n jonger familielid – die sogenaamde "toebroodjie-generasie".

Dit klink dalk voor die hand liggend, maar die studie het gewys 98% van suksesvolle afgetredenes (R25 000 per maand of meer) het 'n bykomende bron van inkomste.

Juis daarom is dit uiters belangrik om reeds vóór aftrede na moontlike heropleiding en deeltydse werk te kyk.    

In 'n New York Times-artikel met die titel "Never Retire" wat reeds in 2005 gepubliseer was, het die gesaghebbende rubriekskrywer William Safire (toe 75 jaar oud) geskryf: "By laying the basis for future activities in the midst of current careers, we reject stultifying retirement and seize the opportunity for an exhilarating second wind."

 

Sestig is die nuwe veertig

Hoewel lewensverwagting van land tot land verskil is dit 'n wêreldwye tendens dat mense deesdae heelwat ouer word, meen prof André Roux, direkteur van Toekomsstudies by die Universiteit Stellenbosch.

"Dit is feitlik onmoontlik om op 65 af te tree want jy gaan waarskynlik nog 30 jaar leef en nie genoeg geld hê nie. Lewenslange leer raak al hoe meer prominent. Vandag se 60 is gister se 40. Jy kan deesdae in jou werkende leeftyd tot drie uiteenlopende loopbane hê," sê Roux.

Hy meen dit is jammer dat mense steeds so vroeg aftree in Suid-Afrika. "Jy sal baie versigtig met jou geld moet werk of jouself toerus om 'n ander werk te kry. Jou vaardighede moet relevant bly soos die ekonomie en arbeidsmark verander. Jy moet eenvoudig self verantwoordelikheid neem en aanpassings maak" sê hy.

Om tred te hou met die snel veranderende arbeidsmark is van kardinale belang. Reeds 'n paar jaar gelede het Eric A. Spiegel, uitvoerende hoof van Siemens in die VSA, gewaarsku: "Recent statistics show that eighty percent of the jobs you will have in the future don't even exist yet."

In Europa was daar reeds in 2010 meer bejaardes bó 65 as jongmense onder 14, 'n fenomeen wat as die "greying of Europe" bekendstaan. Prof Roux sê egter in Suid-Afrika lyk die statistiek (nog) nie so droewig nie. "Ons het 'n venster van geleentheid in Suid-Afrika, maar dit sal slegs moontlik wees as jongmense behoorlik opgelei word. En om 'n krimpende arbeidsmag te verhoed sal mense moet aanhou werk ná aftrede," sê hy.  

Volgens prof Roux is kreatiewe denke en entrepreneursvaardighede die sleutel tot sukses. "Jy moet 'n sakeplan kan opstel, bereid wees om risiko's te neem en vuur en vlam wees om 'n ding te doen – of dit nou inligtingstegnologie of jou eie vis-en-tjips winkel op jou oudag is. Mentorskap en afrigting raak ook al hoe meer prominent. Die geestelike versorging van mense is net so belangrik."

 

Doen dit nou

Waarom is dit so 'n stryd vir mense om behoorlik voorsiening vir hul oudag te maak? "Die gewoonte van uitstel, om net in die oomblik te wil leef sonder om aan die toekoms te dink en om te probeer byhou met jou buurman en nie jou eie pad te bepaal nie is van die vernaamste faktore," sê Andrew Bradley, uitvoerende hoof van Old Mutual Wealth.

Bradley meen mense mag dalk genoeg geld hê wanneer aftrede begin, maar hulle maak dikwels hul nie voorsiening vir die meer as 20 lewensjare wat waarskynlik voorlê nie. Behalwe vir die negatiewe ekonomiese gevolge – van gebrek aan kapitaal vir voldoende werkskepping, swak beleggingsopbrengs en 'n sukkelende bruto binnelandse produk (BPP) – moet 'n mens ook nie die sielkundige impak vlak kyk nie.

"As jy nie genoeg geld het tydens aftrede nie, moet jy jou uitgawes sny en dit kan 'n reuse-invloed op jou lewensgehalte hê, wat weer tot sielkundige uitdagings lei," sê hy.

Volgens Bradley is die mees realistiese opsie om minder uit te gee, vir jouself nuwe werk te skep en die kapitaal wat jy wel tot jou beskikking het so optimaal moontlik te bestuur.           

"Mense gaan langer leef, waarskynlik tot 'n 100 jaar of selfs ouer. Hoe meer mense aftree, hoe groter gaan die maatskaplike en ekonomiese uitdagings raak. Die regering se vermoë om enige iets betekenisvol te bied is uiters beperk. Individue moet eenvoudig self verantwoordelikheid neem vir hul aftrede en dit onmiddellik begin doen – ongeag hul huidige ouderdom," sê Bradley.

Hy meen ouer mense behoort hul kennis van sielkunde en breinwetenskap te verbreed. "As jy die dinamika verstaan van hoe die brein werk kan jy meer betekenisvol leef. Ons moet ook ons vaardighede in tegnologie en beleggings aanhou opskerp om ons lewenskwaliteit te verbeter."


Wanneer alumni weer studente word ...

Die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool het 'n beduidende aantal 'ouer' studente op sy 11 akademiese programme. Dit blyk uit verskeie onderhoude met USB-studente wat later in hul lewe weer studeer dat voortgesette leer ononderhandelbaar is. Dit is ook 'n prioriteit vir veral ouer studente om hul vaardighede met 'n jonger geslag te deel.

"Gelukkig is leer soos fietsry, 'n mens verleer dit nie regtig nie," sê dr Cor Beyers (46) wat tans besig is met 'n MBA. Hy het sy loopbaan in 1990's as hoërskool onderwyser in wiskunde en chemie begin, maar het ná verdere studies onder meer as 'n projekleier by BASF in Duitsland en as hoof van navorsing by Plascon in Suid-Afrika gewerk. Deesdae is hy 'n direkteur by PPG Industries vir Suid- en Oos-Afrika. 

"Dit is interessant om nou klas te loop met nuwe media-hulpmiddels – dit maak die lesings veel interessanter. Toe ek in 1991 op Stellenbosch klaar studeer het, was daar slegs oorhoofse projektors."

Hy is aktief besig om mense wat aan hom rapporteer af te rig, en die kursus het hom reeds inspireer om sy onderrigmetode te verander. "Voorheen het ek geglo ek kan kennis oordra en mense deur motivering beïnvloed om te verander. In die MBA leer ek dis belangrik vir mense om uit hul eie ervarings te leer. Hulle moet besin oor wat in hul lewe gebeur en dan self aksie neem om dit te verander."

Willem van Huyssteen (57) is ingeskryf vir die MPhil in Bestuursafriging. Hy het deesdae sy eie konsultasiemaatskappy en was vroeër bemarkingshoof van Kaapse Verbruikers.

"Ek dink ons Baby Boomers is die eerste geslag wat die luukse het om te gee en te deel. Ons besef dat aanpassing noodsaaklik is en getrou aan die wyse waarop ons grootgeword het, dink ons dat die antwoord by studies is. En daar is 'n maatskaplike bewussyn, wat dalk eie aan ons land mag wees, maar ek dink dat ons wat het dit graag wil deel met hulle wat kan," sê hy. 

Andile Mayaba (66), 'n bestuursafrigter wat ook besig in met sy MPhil in Bestuursafrigting, vind vreugde daarin om sy nuwe kennis en vaardighede terug te ploeg in die gemeenskap. "Ek deel my ervaring en begin deur te sê daar is ook iets vir my te leer by die persoon wat ek afrig. Ons begin die leerproses saam as gelyke vennote. Ek is omdat jy is. Umntu ngumntu ngabantu."

Jenny Worner (54), wat onlangs haar MBA by die USB voltooi het, het die hoogste eer by USB te beurt geval deur uit meer as 400 van die 2014/2015-graduandi gekies te word om die Direkteurstoekenning vir 2015 vir uitsonderlike prestasie op akademiese en leierskapsgebied te ontvang. Jenny het eers as arbeidsterapeut in die veld gewerk, later rekenaarwetenskap studeer en in 'n familiebesigheid gewerk en selfs 'n luukse lodge en spa in KwaZulu-Natal ontwikkel.

"Die MBA het my gehelp om besigheid dieper te verstaan – die 'harde' én 'sagte' aspekte," sê sy. "Dit was by tye baie uitputtend en ek was ver buite my gemaksone, maar die intellektuele stimulasie en die ware vriendskappe wat gevorm is was baie betekenisvol.

"Die redes waarom ons verder studeer is veelvuldig. Ons verhoudings, ingesteldhede, lewenstyle en lewenstandaard mag verander tydens hierdie proses van groei en ontwikkeling. Ons is deel van die groter veranderende werklikhede van ons samelewing. Dit is 'n reis wat begin met onsekerheid maar lei tot eindelose moontlikhede. Ek kan dit baie sterk aanbeveel!" verduidelik Jenny.


Voortgesette leer by die USB

By die USB is daar duidelike bewyse dat 'n al groter groep studente later in hul lewe terugkeer vir verdere studies soos 'n MBA of om spesifieke kundigheid op te bou, byvoorbeeld in Bestuursafrigting, Ontwikkelingsfinansies, Toekomsstudies, Projekbestuur of Leierskapontwikkeling. Die syfers hieronder staaf dit:

  • USB-studente wat 37 jaar en ouer is in 2015: 34% van die MBA-studente, 39% van die MPhil in Ontwikkelingsfinansies-studente en 80% van die MPhil in Bestuursafrigting-studente.
  • Die behoefte aan bestuurskennis ná 40: 1 uit elke 5 van die studente op die USB se nuwe Nagraadse Diploma in Sakebestuur en -Administrasie is ouer as 40. Dit sluit in talle bestuurders, ingenieurs, 'n mediese dokter, mense wat vir hulself werk en 'n predikant.
  • Nooit te oud om te leer nie: Twee van die mense wat in 2014 'n MPhil in Bestuursafrigting verwerf het, was bo 60 (onderskeidelik 67 en 68 jaar). Die oudste persoon wat in 2014 'n MPhil in Ontwikkelingsfinansies behaal het, was 60. In 2013 was daar 'n 59-jarige student op die Nagraadse Diploma in Leierskapontwikkeling.

 

Die USB se programme is toeganklik vir mense wat verder wil studeer terwyl hulle voltyds werk. Die meeste programme word modulêr aangebied (blokke wat oor 'n jaar versprei is) terwyl ander van vervlegte leer (blended learning) gebruik maak (kombinasie van klaskontaksessies en aanlynleer). Die Voltydse MBA is ideaal vir mense wat 'n jaar opsy kan sit om net op hul studies te konsentreer. Sien www.usb.ac.za.

Bronne: www.aegon.com, www.sanlambenchmark.co.za, www.newyorktimes.com

Submit your comments here
Disclaimer: The views of users published on the University of Stellenbosch Business School website are their own and do not necessarily represent the views of the University of Stellenbosch Business School. Our editors reserve the right to edit and delete any and all comments received.
No comments yet.




Name:

Email:

Comment:


 Featured ThoughtPrints