Sign In
Waar daar nie rook is nie is daar nog vuur
Dated: Thursday, June 15, 2017
​ie skade wat tabak veroorsaak, word wyd gepubliseer en slegs 'n paar van die skrikwekkende statistieke word hier genoem. Op hierdie dag alleen sal meer as 13 000 mense wêreldwyd sterf as 'n direkte gevolg van tabak, skryf die USB se dr Daniel Malan in hierdie artikel. Lees dit hier.

Die skade wat tabak veroorsaak, word wyd gepubliseer en slegs 'n paar van die skrikwekkende statistieke word hier genoem. Op hierdie dag alleen sal meer as 13 000 mense wêreldwyd sterf as 'n direkte gevolg van tabak. 'n Kwart van alle lewenslange rokers sal op middeljarige ouderdom omkom, en volgens 'n studie van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Verenigde State se Nasionale Kankerinstituut wat vroeër vanjaar gepubliseer is, kos rook die wêreldekonomie meer as $ 1 triljoen per jaar — byna vier keer die bedrag wat deur tabakaksynsbelasting gegenereer word.

 

Die tipiese reaksie op so 'n dag is om die belangrikheid van die WGO se Raamwerkkonvensie oor Tabakbeheer ('Framework Convention on Tobacco Control (FCTC)') te versterk. Die 'FCTC' het in 2005 in werking getree en is wetlik bindend in 180 lande. Dit fokus op die produksie, verkoop, verspreiding, advertensie en belasting van tabak. Daar is geen twyfel dat maatreëls om die vraag na en verspreiding van tabak te verminder, belangrik is nie en dat die 'FCTC' 'n positiewe impak gehad het, maar net tot 'n punt. Mense wat vandag weens tabak sterf, is 'n aaklige herinnering aan hierdie feit.

 

Een bykomende strategie ten opsigte van tabakbeheer is skadevermindering. Hierdie strategie verdeel die mediese gemeenskap en verdien meer blootstelling. Dit is gekoppel aan die logika wat meer as 40 jaar gelede deur professor Michael Russell, die Suid-Afrikaans gebore pionier op die gebied van rookgedrag, verwoord is, naamlik dat rokers vir nikotien rook, maar deur teer tot 'n einde kom.

 

Eenvoudig gestel word die vermindering van tabakskade gedefinieer as enige maatreël wat die risiko verbonde aan die gebruik van tabak of nikotien verminder. Sigaretvervangers soos dampprodukte en rooklose tabak is voorbeelde. Die daad van inaseming en uitaseming van die damp wat deur 'n elektroniese sigaret (e-sigaret) vervaardig word is een voorbeeld van die gebruik van 'n dampproduk. Daar is baie ander nikotienvervangingsterapieprodukte op die mark, soos nikotienkougom of -pleisters. Hoewel hulle sommige mense help om op te hou rook, is daar beperkte sukses behaal. 'n Onlangse studie in Nieu-Seeland het bevind dat e-sigarette meer effektief is as nikotienpleisters vir diegene wat wil ophou rook.

 

Potensiële voordele van oorskakel van sigarette na e-sigarette is ondersoek en 'n verslag van die Royal College of Physicians in die Verenigde Koninkryk lui: "Grootskaalse oorskakeling na e-sigarette of ander nie-tabak nikotienprodukte vanaf tabakrook het die potensiaal om byna al die skade van rook in die samelewing te voorkom ... om e-sigarette te bevorder ... as 'n plaasvervanger vir rook, is derhalwe waarskynlik 'n aansienlike gesondheidswins in die Verenigde Koninkryk".

 

Ander kenners stem saam: Volgens 'n studie deur Openbare Gesondheid in Engeland is e-sigarette 95% veiliger as rook, maar byna die helfte van die bevolking is nie daarvan bewus nie. Dr Derek Yach, voorheen hoof van tabakbeheer van die WGO, het verwys na e-sigarette as 'n "weg na die goeie". Professor Ann McNeil van King's College in Londen het e-sigarette 'a game changer for public health' genoem. Dr Scott Gottlieb, die nuwe hoof van die Amerikaanse Voedsel- en Dwelmadministrasie ('FDA'), het verlede week die geleentheid gehad om sy personeel toe te spreek en het daartydens baie sterk opmerkings rakende rook gemaak en baie spesifiek  oor skadevermindering: "Ons moet pogings verdubbel om rokers meer te help om tabakvry te raak. Ons moet ook 'n wetenskaplike basis hê om die potensiaal te ondersoek om huidige rokers aan te moedig wat sukkel om op te hou of wat nie bereid is om op te hou nie, om dan eerder minder-skadelike produkte te gebruik. Ons moet kinders te alle tye beskerm teen die gevare van tabakgebruik".

 

Om e-sigarette te ondersteun is nie dieselfde as om tabakmaatskappye te ondersteun nie, maar baie teenstanders van tabak weier om die onderskeid te aanvaar. Die redes is onduidelik. Miskien is regerings verslaaf aan aksynsbelange, of dalk het sommige afdelings van die anti-rookgroep 'n bedryf in hulself geword en het tabak nodig om te kan oorleef. Dit is duidelik dat die debat meer onderskeidend moet word, want daar is 'n etiese verskil tussen tabakmaatskappye wat beide sigarette en e-sigarette verkoop en ander produsente wat slegs in die nikotienbesigheid is.

 

Dit is interessant dat 'n maatskappy soos Twisp, wat slegs dampprodukte verkoop, geen gesondheidsverwante inligting op sy webwerf insluit nie. Dit het waarskynlik te doen met die gesondheidsdepartement se verwarrende skedulering van e-sigarette binne die Suid-Afrikaanse mark waar 'n klassifikasie wat verband hou met rookstaking, geskeduleer word as S3-stof met die implikasie dat die produk slegs by apteke verkoop kan word. Dit is ironies en is waarskynlik wat soveel van die tradisionele anti-rookgroepe omkrap, naamlik dat 'n produk wat die spesifieke ding wat hulle teenstaan naboots, moontlik meer effektief kan wees as enigiets wat voorheen probeer is.

 

Dit is verstaanbaar met die berugte geskiedenis van die tabakbedryf, dat enige produk wat die woord 'sigaret' insluit, onaanvaarbaar in 'n sterk beklemde toon en suspisieus in 'n meer subtiele vorm gesien sal word. Die WGO wys daarop dat daar beperkte feitlike bewyse beskikbaar is oor die langtermynimpak van e-sigarette. Soos die geval is met selfone, sal hierdie bewyse op die langtermyn na vore kom, maar word bemoeilik deur die feit dat voortdurende, vinnige tegnologiese vooruitgang die bekendstelling van nuwe produkte tot gevolg het. Die bewyse wat tans van geloofwaardige bronne beskikbaar is, blyk oortuigend genoeg te wees, en 'n mens moet bevraagteken waarom hierdie inligting nie meer algemeen bekend is nie.

 

Daar word verwag dat daar sterk sienings teen e-sigarette sal wees maar om te weier om selfs na feite van die ander kant te luister, is nie regverdig nie. Die WGO se amptelike verslag oor Elektroniese Nikotienleweringstelsels en Elektroniese Nie-Nikotienleweringstelsels stel voor dat interaksie beperk word en dat vennootskappe met die bedryf verwerp word, asof die maatskappye wat hierdie toestelle vervaardig, almal deel van tabak is. Hierdie benadering is geensins voordelig nie. Benjamin Meier en Donna Shelley van die Universiteit van Columbia het aangevoer dat internasionale reg 'n skadevermindering benadering vir tabakbeheer ondersteun. Hulle dring daarop aan dat: "die behoeftes van diegene wat verslaaf is aan nikotien ... 'n nuwe model vereis vir internasionale tabakbeheer: mensereg tot gesondheid".

 

Ter wille van meer as een miljard rokers in die wêreld, waarvan die meeste verslaaf is aan nikotien en onwillig of nie bereid is om op te hou nie, is 'n meer praktiese benadering tot e-sigarette nodig. Tegnies is dit korrek om te argumenteer dat dit beter is om heeltemal op te hou as om skade met 95% te verminder, maar so 'n puristiese benadering sal uiteindelik meer skade as goed doen.

 

Raakvatter waghonde word benodig vir beide sigarette en e-sigarette, maar die twee produkte moet nie deur reguleerders, lewensversekeringsmaatskappye of ander belanghebbendes verwar word nie. Waar toepaslik, moet ooreenkomste erken word. Damprook in 'n teater of op 'n vliegtuig moet nie toegelaat word op grond daarvan dat daar geen verbranding is nie. Advertensies wat verband hou met rook behoort nooit op kinders gerig te wees nie en wanneer dit gebeur, moet daar ernstige teenkanting wees. Die integriteit van die maatskappye wat beide sigarette en e-sigarette aggressief bemark, moet bevraagteken word. Die mediese professie moet toepaslike navorsing doen en 'n konsensusmening moet nooit verwag word nie. Die oorheersende maatstaf moet wees om besluite te neem wat lewens sal red. Beide rokers en nie-rokers verdien dit, en moet daarop aandring.

 

Dr Daniel Malan doen tans navorsing vir die 'Africa Harm Reduction Alliance'.